Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS SONDAG 01 JANUARIE 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die eerste uitsending van SARL-NUUS 2012:

VERANDERINGS BY OKOSA

AUSTRALIESE HOUERS VAN GEVORDERDE LISENSIES MAG MOONTLIK MET HOËR KRAG UITSAAI

ARRL SE KINDERDAG OP 8 JANUARIE

SLUIT HIERDIE WEEK BY DIE SARL AAN EN ONTVANG ’n HERDENKINGSMUISBLAD

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

VERANDERINGS BY OKOSA

Die Algemene Bestuurder vir Ingenieurswese en Tegnologie by OKOSA het bedank en op 31 Desember diens verlaat. Dumisa Ngwenya het by die samewerkingskomitee van OKOSA en SARL voorgesit. Daar is geen aanduiding wie in die pos gaan waarneem totdat ’n nuwe persoon aangestel is nie. ’n Nuwe aanstelling is ’n lang proses aangesien die pos geadverteer moet word.

In afwagting van sy bedanking het die SARL middel Desember ’n versoek aan die Hoof Uitvoerende Beampte van OKOSA, Themba Dlamini, gerig om ondersoek in te stel na die lang vertraging met die publisering van die verbeterings aan die regulasies wat op 1 April 2011 van krag geword het. Tot datum het die SARL geen terugvoering ontvang, anders as dat die regsafdeling besig is om die om die verbeterings na te gaan, nie. Die SARL het die HUB versoek om die amteurregulasies van die res te skei, aangesien dit blyk dat dit die res van die verbeterings is wat die proses vertraag. Die SARL het ook ’n ontmoeting met die HUB versoek.

AUSTRALIESE HOUERS VAN GEVORDERDE LISENSIES MAG MOONTLIK MET HOËR KRAG UITSAAI

Na voortgaande versoeke deur die Wireless Institute of Australia is die moontlikheid daar dat houers van gevorderde lisensies toegelaat mag word om hoër krag vergelykbaar met ander lande mag uitsaai.

Die ACMA het die WIA ingelig dat hy van voorneme is om die WIA se versoek te aanvaar waarvolgens houers van gevorderde lisensies mag aansoek doen om ’n wysiging aan hulle lisensievoorwaardes waarvolgens hulle vanaf 1 Maart 2012 op ’n toetsbasis teen hoër krag vanaf ’n vaste ligging mag uitsaai. Die ACMA het dit aan die WIA gestel dat hulle bekommerd bly oor die risiko van steurings deur die gebruik van hoër krag. Na die verloop van 12 maande sal die situasie deur die ACMA in heroorweging geneem word.

Die ACMA het hierdie standpunt ingeneem ten einde enige spesifieke probleme te identifiseer en bevredigende oplossings te vind, in die woorde van ACMA “om deur die toetsproses te vorder tot toepaslike voortgaande reëlings vanaf vroeg in 2013”.

Michael Owen, VK3KI, die President van die WIA, het gesê: “Die hoër kragperke sal slegs op hoë frekwensie amateurbande waar die amateurdiens primêre status geniet” Die WIA het egter versoek dat die band 7 100 tot 7 200 kHz ook ingesluit word. Australië het in Oktober 2005 ’n gevorderde graad sillabus ingestel wat ’n meer gevorderde leerplan van studie insluit. Australië het drie grade van lisensies te wete: ’n Fondament, ’n Standaard en ’n Gevorderde.

ARRL SE KINDERDAG OP 8 JANUARIE

Die eerste van twee kinderdag bedryfsgeleenthede vir 2012 vind op Sondag 8 Januarie plaas. Kinderdagbedrywigheid vind tweekeer per jaar op die lug plaas ten einde jongmense, gelisensieerd of nie, bekend te stel aan die wonderlike wêreld van amateurradio en die pret wat dit aanbied.

Kinderdag is nie ’n kompetisie nie. Eerder is dit ’n manier om aan jongmense wêreldwyd te vertel aangaande die wonderlikheid en misterie van die tweerigtingstokperdjie van radiokommunikasie. Ten einde dit te bereik, word amateurradiostasies versoek om hierdie korttydvenster te wy aan die bekendstelling van beide aard- en satellietbedrywighede aan die jongmense en om ’n plek te voorsien waar kontakte met kinderdagstasies in ander wêrelddele gemaak kan word.

Meer inligting aangaande kinderdag is aanlyn beskikbaar op www.arrl.org/kids-day.

SLUIT HIERDIE WEEK BY DIE SARL AAN EN ONTVANG ’n HERDENKINGSMUISBLAD

Indien u nognie ’n SARL-lid is nie, is dit nie nou tyd dat u aansluit nie? Die eerste twintig persone wat gedurende Januarie 2012 as lede aansluit, sal ’n herdenkingsmuisblad ontvang. Op die blad is die logo van die IARU se 2011 konferensie gedruk en dit is ’n versamelstuk. Om aan te sluit besoek www.sarl.org.za of skakel Mariska vanaf Dinsdag 3 Januarie by 011 675 2393.

NUWE TYD VIR AMATEURRADIO VANDAG SE UITSENDING OP MAANDAGAANDE

Vanaf Maandag 2 Januarie sal die tyd vir die heruitsending van die program ‘Amateurradio VANDAG’ verander na 17:30 – 18:30 UTC, dit is 19:30 – 20:30 SAT. Die uitsending sal in die 60 meter band op ’n frekwensie van 4 895 kHz. bly. Die sender sal 100 kW aan ’n ongerigte antenna lewer. Ontvangsrapporte sal waardeer word en dit kan per e-pos gestuur word na artoday@sarl.org.za. Alle rapporte oor die uitsending op 2 Januarie wat teen 5 Januarie ontvang word, sal deelneem aan ’n gelukstrekking vir ’n boek van die ARRL oor RF-steurings. ’n Rapport kan ook per faks gestuur word aan 012 991 5651.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteit vir die week laag tot matig is. Sonvlek 1 389 het Donderdag en Vrydag 'n paar lae intensiteit M-klas fakkels opgelewer. Gedurende 2009 was daar 260 dae sonder sonvlekke, 51 dae gedurende 2010 en slegs 2 dae gedurende 2011.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 95.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie openinge vir trans-ekwatoriale voortplanting van tyd-tot-tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

8 Januarie – ARRL se kinderdagbedrywighede. Inligting by www.arrl.org/kids-day.
15 Januarie – Laaste dag vir indiening van voorgestelde aanbiedings vir Radiotegnologie-in-Aksie-Simposiums 2012 na artoday@sarl.org.za.
31 Januarie - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za.
Onthou ook om nominasies in te stuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003